Thursday 24 April 2014
News / Dié kultuur ’n groeiende probleem

ARMOEDE is nie ’n morbiede onderwerp nie. Dit het wel ’n reuk en stigma wat die nie-armes wegdryf.

“Armes leef in die gebied van vermyding en min mense kom met werklike armoede in aanraking.”

Só sê Gideon van Deventer wat die Nehemia-projek sowat agt jaar gelede in die Vrystaatse Goudveld begin het. Hy is betrokke by verskeie wit plakkerskampe.

Hy glo mense moet geleer word om self vis te vang en nie altyd bakhand te staan nie.

“Armoede word dikwels onwetend gekweek.

“Mense haal altyd Matteus aan waar Jesus gesê het: Ek was honger en jy het nie.... ? Ek was dors en jy het nie.... ? Ek was naak en jy het nie....Ek was siek en jy het nie......? Ek was in die tronk... jy het nie....?

“Kos en klere uitdeel is soos knapsekêrels wat aan jou kom vassit het. Hulle soek jou op, jy gaan wandel op hul terrein en hul soek en kry vatplek.

“Die dilemma is dat knapsekêrels lastige goed kan wees. So vinnig soos jy afpluk en hulle in fabriek van voed en klee gooi, so vinnig produseer die fabriek meer en meer knapsekêrels.

“Elke dag word die ry langer en langer soos mense hoor en aanklop vir kos, klere, warm komberse en allerlei ander simptomatiese behandeling.

“Ons moet arm, honger mense voed, klee en waar moontlik werk help kry, maar dit is nie volhoubaar nie,” sê Van Deventer.

“Daar is hopeloos te veel mense en organisasies wat vir arm mense werk en daardeur tot ’n bakhandkultuur bydra.”

Van Deventer het die projek begin nadat hy self sy werk by ’n bekende myngroep verloor het. Hy het ’n senior pos beklee.

Hy help mense onder meer om CV’s op te stel en om werk te kry.

Nehemia is ook betrokke by wit plakkerskampe in Pretoria en op Brits en Krugersdorp.

Navrae word nou ook uit Bloemfontein, die Kaap en KwaZulu-Natal ontvang.

“Sedert 1994 is daar te veel organisasies wat uit onkunde afhanklikheid en armoede onder werklose mense kweek.

“Daar is hopeloos te min organisasies wat daadwerklik aan volhoubare langtermyn-oplossings teen die groeiende probleem van die bakhandkultuur werk.

“Daagliks word tonne kos en klere aan arm werkloses uitgedeel en staan die oorgrote meerderheid van dié mense bakhand en wag vir hul kos en klere wat goedgunstig deur barmhartige Samaritane vir hulle ingesamel en uitgedeel word.

“Die goed bedoelde aksies het in baie gevalle daartoe gelei dat veral die wit armes deesdae aan ’n julle-skuld-ons-sindroom ly.

“Nehemia identifiseer arm, werklose mense en leer hulle om vis te vang (vir hulself te werk).

“Ons kry talle mense wat met die eerste kennismaking baie opgewonde is en dadelik aan die werk wil spring. Die toets van volhoubaarheid lê egter in die mens se wilskrag en of hy of sy werklik hul omstandighede wil verander.”

Van Deventer sê talle van die mense val spoedig weer terug in hul bakhandkultuur.

“Ons is op soek na mense met passie vir hul medemens en met tyd tot hul beskikking wat hulle hier in die Goudveld by dié projek wil inskakel om nuwe hoop aan arm mense sonder hoop uit te deel.”

Vir meer besonderhede bel Van Deventer by 074-137-2534.

  COMMENTS 
 
top
OUR LATEST ISSUE

top
HAVE YOUR SAY Suggest future poll
2014 Verkiesings
Langs watter party gaan jy jou kruisie trek?
ANC
DA
VF+
Ander
top
bottom